“Don’t miss the wave” (Old saying – not limited to surfers!)
Bitcoin is ’n digitale geldeenheid wat al sedert sy bekendstelling in 2009 baie vinnig gegroei het. Die Verenigde Koninkryk het onlangs ‘n e-geld lisensie aan ‘n finansiële instansie verleen en Barclays Bank was deel van die proses.
Wat is Bitcoin?
Dit is ‘n digitale geldeenheid waarmee jy, so te sê, enige persoon in die wêreld kan betaal, sonder dat ‘n tussenganger (‘n bank) betrokke is. Dit is dus baie goedkoper as om ‘n bank te gebruik en potensieel net so effektief.
Hoofkenmerke en voordele:
Die stigter van Bitcoin (steeds anoniem) het ‘n robuuste stelsel gebou:
- Die hoeveelheid Bitcoins is beperk tot 21 miljoen. Dit help om te verseker dat die fundamentele waarde van Bitcoin styg en dat daar dus ‘n beskerming teen inflasie is;
- Die stelsel word deur niemand beheer nie en is heeltemal deursigtig. Enigiemand kan enige tyd alle transaksies ondersoek. Dit word “blockchain” genoem. Die stelsel is dus selfregulerend;
- Gesofistikeerde kriptografie beskerm die integriteit van transaksies. Dit is onmoontlik om dieselfde Bitcoin twee keer te gebruik. Indien jy dit probeer, sal jou stelsel nie gesinkroniseerd met ander gebruikers wees nie;
- Die sagteware bron wat gebruik word is vrylik beskikbaar, maklik om te verstaan, verniet en toeganklik;
- Die stelsel is maklik om te gebruik.
Wat is die risiko?
Net soos enige aanlyn/internet stelsel is dit moontlik vir kuber kriminele om by die stelsel in te breek. Die waarde van Bitcoin is ook nie gevrywaar teen wisselvalligheid nie en die korrekte waarde kan nie gewaarborg word nie. Bitcoin het wel onlangs teen die dollar in waarde toegeneem (na die skerp daling in 2014). Daar is ook geen geregtelike beskerming vir Bitcoin nie (soos byvoorbeeld met ‘n “wettige betaalmiddel” soos die Rand), so jy kan dit op jou “eie en onafhanklike risiko” (Suid-Afrikaanse Reserwe Bank aanhaling) gebruik. Gebruikers kan hul identiteit wegsteek, so die potensiaal vir inkomstebelasting bedrog en ontduiking van valutabeheer bestaan – wat natuurlik onwelkome aandag van regerings sal bring.
Aanwending in Afrika
Afrika het die potensiaal vir wydverspreide gebruik. Die feit dat Afrika baie onstabiele geldeenhede en beperkte infrastruktuur het, beteken dat Bitcoin “leap technology” kan wees wat ekonomiese vooruitgang op die kontinent kan bespoedig, veral inaggenome die wydverspreide gebruik van slimfone in Afrika.
Bitcoin is hier om te bly en baie kommentators noem dit die volgende ontwrigter van finansiële banke. Moenie risiko’s loop nie, leer meer omtrent Bitcoin!