Onlangse wetgewing is goedgekeur wat trustees van deeltitel skemas verplig om ‘n reserwefonds te skep vir reparasies, instandhouding en batevervanging van gemeenskaplike eiendom. Dit is addisioneel tot die huidige administratiewe vereiste om vir toekomstige bedryfsuitgawes voorsiening te maak.
As jy betrokke is by beheerliggame, is dit belangrik om kennis te neem van hierdie wetgewing – dit kan jou sak raak en gaan tyd neem om te verstaan, want dit plaas toenemende verantwoordelikhede op trustees en ander belanghebbendes.
Hoe gaan dit my raak?
Die omvang van die nuwe gemeenskaplike eiendom reserwefonds gaan afhang van die omvang en aard van die gemeenskaplike eiendom – as daar byvoorbeeld hysbakke is, sal die blootstelling groter wees.
Hoe beter die beheerliggaam se kontantposisie en beleggings is, hoe laer gaan die finansiële blootstelling wees.
Om dit te illustreer, kyk na die beheerliggaam se finansiële jaarstate en bepaal hoeveel kontant en/of beleggings daar is. As die kontant/beleggings genoeg is om ‘n volle jaar se uitgawes te dek, sal jou blootstelling laag wees.
Hoe word die reserwefonds bepaal?
Die Wet lê vereistes neer vir die reserwefonds – die minimum bedrag is 15% van die vorige jaar se betalings aan die administrasiefonds (daar word reeds vir ‘n geruime tyd van deeltitel skemas vereis om ‘n fonds vir bedryfskostes te hê; die sogenaamde administrasiefonds).
Wat betref die reserwefonds, moet die trustees ‘n gedetailleerde plan opstel vir voorlegging aan die Algemene Jaarvergadering (AJV). Dit moet onder andere elke kapitale item toon, met die begrote toekomstige herstelwerk en vervanging daarvan vir die volgende tien jaar.
Neem as voorbeeld ‘n hysbak. Aanvaar dat sy ekonomiese lewe twintig jaar is, die vervangingskoste R1 miljoen is en die hysbak tans tien jaar oud is. Jaarlikse onderhoud kos R10 000. Die trustees sal dan R10 000 (jaarlikse onderhoud) plus R100 000 (tien jaar tot vervanging) = R110 000 per jaar vir die reserwefonds moet begroot.
Die plan word dan by die AJV goedgekeur.
Die bepaling behels ‘n omvattende berekening, wat ‘n aansienlike taak kan wees – maak dus seker hoe dit werk.
Ander aangeleenthede
- Die reserwefondse moet afsonderlike bankrekeninge hê.
- Die finansiële state van beheerliggame moet geouditeer word (met enkele uitsonderings).
- Geen gevolmagtigde mag meer as twee eienaars verteenwoordig nie.
- Getrouheidswaarborg- en openbare aanspreeklikheid versekering moet uitgeneem word.
- Waardasies van die skema moet elke drie jaar gedoen word.
- In algemene vergaderings word oor mosies besluit deur ‘n meerderheidstem. Die meerderheid word bepaal volgens die deelnemingskwota van elke lid, dit wil sê stemreg word gebaseer op waarde.
- ‘n Nuwe Ombudsdiens, wat nie net op deeltitel skemas van toepassing is nie maar ook op alle “gemeenskapskemas” soos huiseienaarsverenigings, is geskep om ‘n geskilbeslegting proses te voorsien aan almal wat geraak word deur ‘n geskil in die skema.
- Alle nuwe skemas en reëlveranderings sal gekeur word deur die Ombudsdiens. ‘n Nuwe stel voorgeskrewe reëls vir beheerliggame het in werking getree in Oktober verlede jaar. Dit vervang die bestaande reëls; en alle nuwe en bestaande beheerliggame moet hierdie nuwe reëls implementeer. Die enigste uitsondering is waar beheerliggame hul eie aangepaste reëls het en dit nie strydig is met die nuwe reëls nie.
Daar was beduidende veranderinge in die voorskrifte vir die bestuur van beheerliggame. Praat met jou rekenmeester as jy twyfel, omdat dit addisionele befondsing van skemalede mag vereis.
Onthou dat terwyl jy nou meer mag betaal om die reserwefonds te skep, dit oor die lange duur die nodigheid vir spesiale heffings wesenlik sal verminder.