Direkteure Hou Nie Van Totsiens Sê

“Parting is such sweet sorrow” (Shakespeare)

Een van die voorspelde negatiewe gevolge van die nuwe Maatskappywet (die Wet) en die King Kodes, was dat dit moeilik gaan wees om direkteure te vind. Die Wet en King Kodes plaas omvattende aanspreeklikheid op direkteure, moedig die jaarlikse beoordeling van direkteure aan, plaas beperkings op direkteure en beveel streng gedragskodes aan om te verseker dat direkteure hulle fidusiêre pligte nakom.

Nie-uitvoerende direkteure het veral kwesbaar gelyk omdat hulle nie deel is van die dag tot dag aktiwiteite nie, deur omvattende pakke dokumente moet werk voor elke vergadering en steeds dieselfde aanspreeklikhede het as uitvoerende direkteure.

Dit lyk dus logies dat direkteure huiwerig sou wees om te dien met die toevoeging van al die beheermaatreëls.

Die voorspellings was verkeerd – direkteure bly aan

Navorsing wat in die VSA gedoen is, weerspreek dit deurdat dit aantoon dat direkteure gretig is om solank as moontlik in die amp te bly. Dit lyk of die aansien en toegang tot hoëvlak netwerke van meer belang is as die negatiewe faktore.

Direkteure in die VSA is van mening dat een uit elke drie direkteure vervang moet word, maar navorsing toon dat slegs 15% van direkteure gedurende die afgelope twee jaar aangestel is.

Watter direkteure behoort vervang te word?

  • Die eerste kategorie is direkteure wat onvoorbereid by vergaderings opdaag – dit geld vir 25% van rade van direkteure.
  • Tweede is die meerderwaardigheidskategorie. Hulle wil altyd slimmer klink as die ander, wat lei tot disfunksionele rade.
  • Volgende is diegene wat nooit praat nie. Baie van hulle dink dat die hoof uitvoerende beampte (HUB) afgedank moet word, maar sê dit nooit.
  • Dan is daar die beheersieke HUB’s wat bang is vir raadstoesig en die raadslede verdeel en beheer. Soortgelyk, is HUB’s wat Voorsitter word geneig om die nuwe HUB te onderdruk, omdat hulle glo dat net hulle die maatskappy doeltreffend kan bestuur.
  • Laastens, is daar die “ouer garde”, wat glo dat hulle ondervinding essensieel is vir die raad, maar met die tyd die vermoë verloor het om onafhanklik te dink en opponerende menings te lug.

Jy moet tereg vra hoe doeltreffend die beheer kan wees in sulke maatskappye. As dit korrek toegepas word, sal beoordeling, streng toepassing van termynperke en gedragskodes hierdie kategorieë laat verdwyn.

Dit blyk dat direkteure saamstem dat swakker lede vervang moet word, maar hulle sien hulself nooit as die swak skakel nie – dit is altyd die ander direkteur wat moet gaan.

Dit is belangrik dat beheer nie slegs ‘n boksie afmerk oefening is nie. Daar is ‘n sterk argument dat nuwe bloed nuwe energie en idees na die tafel bring. Jack Welch, die HUB van General Electric, handhaaf die siening dat die wegdoen van nie-presteerders hulle besigheid baie verbeter het.