Direkteure: Roekelose sakebedrywighede en persoonlike aanspreeklikheid in die tyd van die Koronavirus

Sommige besighede floreer onder die omstandighede en die geleenthede wat deur die inperkingskrisis geskep is. Ander staar ernstige kontantvloei- en likiditeitsprobleme in die gesig.

Direkteure moet nou meer as ooit tevore seker maak dat hulle vertroud is met die voortdurende verpligtinge wat die Maatskappyewet op hulle plaas. Versuim om aan die Wet se hoë standaarde van sorg te voldoen kan tot persoonlike aanspreeklikheid, asook strafregtelike vervolging lei.

Hierdie is ’n tydige herinnering aan alle “direkteure” (ons verduidelik hoe wyd die begrip in hierdie konteks gedefinieer word) oor die gevare daaraan verbonde om sake roekeloos te bedryf. Wat beteken dit om sake roekeloos te bedryf? Spreek die onlangse Kennisgewing van die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) jou vry van aanspreeklikheid? Hoe kan jy jou aanspreeklikheid beperk? Lees gerus verder vir ’n paar gedagtes hieroor…

“Eerder nou versigtig wees as om later spyt te wees.”  

Die COVID-19 pandemie en die voortgesette ekonomiese nagevolge het baie besighede in ’n posisie geplaas waar hulle probleme met kontantvloei, en dalk selfs met volhoubaarheid, in die gesig staar.

Die gevolg is dat baie maatskappye óf onder insolvente omstandighede sake doen, óf op die punt staan om dit te doen.

Roekelose sakebedrywighede en die gevaar van persoonlike aanspreeklikheid

Die volgende is ’n uittreksel uit die Maatskappyewet (artikel 22(1)): “’n Maatskappy moet nie sy sake roekeloos, met growwe nalatigheid, met die bedoeling om enige persoon te bedrieg of vir enige bedrieglike doel bedryf nie.”

Ingevolge artikel 77(3) is “’n direkteur van ’n maatskappy … aanspreeklik vir enige verlies of skade gely of koste aangegaan deur die maatskappy as ’n direkte of indirekte gevolg daarvan dat die direkteur … stilswyend ingestem het tot die bedryf van die maatskappy se sake, ondanks die wete dat dit gedoen is op ’n manier wat deur artikel 22(1) verbied word.”

Dit is duidelik dat daar aansienlike moontlikhede vir aanspreeklikheid bestaan. Daarom is versigtige bestuur en besluitneming ten alle tye van kardinale belang – en soveel te meer in hierdie tye van onsekerheid en ekonomiese risiko’s.

Wat beteken dit om sake “roekeloos te bedryf”?

Die Hoogste Hof van Appèl het dis soos volg gestel: “Indien ’n maatskappy aanhou om sake te doen en om skulde aan te gaan wanneer, volgens die redelike sakepersoon wat in die skoene van die direkteure staan daar nie enige redelike vooruitsig is dat krediteure betaling sal ontvang wanneer dit verskuldig is nie, sal die gepaste afleiding wees dat die besigheid roekeloos sake bedryf.” ’n Groot aantal maatskappye loop tans die gevaar om oor hierdie kam geskeer te word.

Nie net direkteure loop die gevaar nie …

Die Maatskappywet se definisie van “direkteur” sluit vir doeleindes van persoonlike aanspreeklikheid ook die volgende in: ’n “plaasvervangende direkteur”, ’n “voorgeskrewe beampte” (wat baie senior bestuurders onder die aanspreeklikheidsnet bring), ’n “persoon wat ’n lid is van ’n komitee van ’n direksie van ’n maatskappy, of van die ouditkomitee van ’n maatskappy, ongeag of die persoon ook ’n lid van die maatskappy se direksie is of nie”.

Word jy deur die onlangse CIPC Kennisgewing beskerm?

Op 24 Maart 2020 het die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) ’n formele Kennisgewing uitgereik. Die kennisgewing bepaal dat die CIPC nie sy magte om voldoeningskennisgewings aan maatskappye uit te reik, sal uitoefen waar die maatskappy “tydelik insolvent is en aanhou om sake te bedryf” nie; maar slegs waar die CIPC “redes het om te glo dat die insolvensie die gevolg van bedryfsomstandighede is wat deur die COVID-19 pandemie veroorsaak is.” Hierdie vergunning, sê die CIPC, sal verstryk 60 dae nadat die verklaring van die nasionale noodtoestand opgehef is.

Kritici beweer dat die kennisgewing roekelose sakebedrywighede deur maatskappy toelaatbaar of aanvaarbaar maak. Die waarheid is dat daar wel ’n aantal direkteure sal wees wat hierdie verweer gaan probeer opper wanneer hulle van sulke bedrywighede beskuldig word.

Dit is nie die werklike boodskap van hierdie CIPC Kennisgewing nie. ’n Versigtiger interpretasie daarvan is dat die Maatskappyewet se verbod teen roekelose sake steeds in plek bly, met die enigste verandering dat die CIPC hul magte om statutêre voldoening af te dwing, tydelik opgeskort het.

Wat moet jy doen as jou maatskappy sukkel?

Ons is hier in ongekende waters. In beginsel is dit beter om veilig te speel en nie kanse te neem nie. Indien jou maatskappy finansieel swaarkry, of as die moontlikheid van sake doen onder insolvente omstandighede jou maatskappy in die gesig staar, verkry dadelik professionele advies oor wat jou beste opsie is. Besigheidsredding of selfs likwidasie mag dalk onvermydelik wees. Dalk word jy aangeraai om ‘n goeie trou gesprek met al die betrokke partye te probeer. Ongeag watter advies jy ontvang, is dit uiters belangrik om spoedige en besliste aksie te neem.