Wat gebeur in die geval waar ‘n maatskappy se direksie ‘n dooiepunt bereik het, soveel so dat die direkteure nie meer kan saamstem oor die besluite wat noodsaaklik vir die behoorlike bestuur van die maatskappy en sy besigheid is nie?
Indien alle ander pogings tot ‘n oplossing misluk het (en hierdie is gewoonlik die heel laaste oorweging), is die gepaste opsie dalk om die maatskappy te likwideer en dit in die hande van onafhanklike likwidateurs te plaas.
‘n Voorbeeld hiervan is die hartseer verhaal wat onlangs in die Hooggeregshof ontvou het. ‘n Suksesvolle en winsgewende eiendomsontwikkelingsmaatskappy is deur die onderlinge bakleiery tussen familielede tot dooiepunt en daarna tot in die Hooggeregshof gedryf. Ons bespreek die Hof se uitspraak, die redes daarvoor en die drie gronde waarop ‘n Hof ‘n solvente maatskappy kan likwideer.
“Family quarrels are bitter things. They don’t go according to any rules”
(F. Scott Fitzgerald)
‘n Maatskappy se direkteure het beide die magte en die verpligtinge om ‘n maatskappy tot voordeel van die maatskappy te bestuur.
Waar daar twee of meer direkteure aan boord is, is dit nie ongewoon dat daar af en toe meningsverskille tussen hulle sal ontstaan nie. Inteendeel, ‘n maatskappy se direksie en die besigheid self sal aansienlik daarby baat indien verskillende standpunte en idees gereeld onderling uitgeruil word. Die voorbehoud is natuurlik dat die direkteure steeds in staat moet wees om met mekaar saam te stem oor die besluite wat noodsaaklik is vir die maatskappy se voorgesette bedrywighede.
Wat gebeur wanneer onenigheid en dispute in so mate eskaleer dat dit onmoontlik raak om die besigheid voort te sit? Dit kan gebeur dat kommunikasie tussen die betrokke partye so wanfunksioneel raak dat die hele besluitnemingsproses tot stilstand kom. Die eerste prys sal natuurlik altyd wees om ‘n vreedsame skikking te bereik – dalk deur formele mediasie, of deur onderhandeling om ‘n afwykende direkteur se aandeelhouding oor te koop. Indien die verskillende pogings tot ‘n opbouende oplossing misluk, is daar waarskynlik moeilikheid vir ons maatskappy op die horison.
Ons reg bied wel ‘n moontlike remedie (oplossing) in die vorm van ‘n “billike en regverdige” likwidasie. Dit bring sy eie risiko’s en waarskynlik aansienlike kostes mee. Gevolglik word dit tereg as ‘n laaste uitweg beskou, maar dit kan werk. (Vra jou prokureur vir advies oor die verskeidenheid ander remedies wat tot jou beskikking mag wees.) ‘n Onlangse geval in die Hooggeregshof dien as voorbeeld.
Suster teenoor Broers: Die ontwikkelingsmaatskappy by ‘n dooiepunt
- ‘n Suster en haar twee broers het, via onderlinge familietrusts, gelyke aandeelhouding (belange) in ‘n plaas besit. (Die aandeelhouding het hulle gedeeltelik van hul vader geërf, en gedeeltelik uit hul oom se bestorwe boedel aangekoop.)
- Hulle was die drie direkteure (en, weereens via familietrusts, die gelyke aandeehouers) van ‘n maatskappy wat gestig was om gedeeltes van die plaas onder te verdeel en te ontwikkel en as residensiële erwe te verkoop.
- Vir baie jare het die direkteure die maatskappy suksesvol en winsgewend bedryf, aansienlike dividende aan die aandeelhouers uitbetaal, en die maatskappy het deurentyd gesond en solvent gebly.
- ‘n Paar jaar gelede het onmin tussen die direksie onstaan; hoofsaaklik tussen die suster en die broer wat die dag-tot-dag bedrywighede van die besigheid beheer het. Ernstige meningsverskille en familietwis het ontstaan. Die bestaan van ‘n vennootskap is betwis, bewerings van bedrog van meer as R6 miljoen is teen die broers gemaak, asook ander bewerings van persoonlike misbruik en mishandeling binne familieverband is gemaak.
- Hierdie bewerings is in geheel ontken. In ‘n skikkingsooreenkoms het die broers wel onderneem om hul suster nie “emosioneel te mishandel” nie. Dit was vir die hof duidelik dat die verbrokkeling van die verhouding nie beperk was tot die broers en die suster se professionele sake nie. Die verhouding tussen die direkteure en aandeelhouers was, volgens die Hof, “soortgelyk as die van vennote in ‘n gesinsverband”.
- Die suster doen dan aansoek vir die likwidasie van die maatskappy op die gronde dat dit “billik en regverdig” is. Die Maatskappywet maak voorsiening vir hierdie prosedure, en bepaal voorts dat ‘n hof die diskresie het om ‘n maatskappy te likwideer – ten spyte daarvan dat die maatskappy solvent is – met die doel dat ‘n onafhanklike likwidateur die sake van die maatskappy kan oorneem.
- Die broers staan die aansoek teen, en voer aan dat daar geen dooiepunt in die funksionering van maatskappy of tussen die direkteure en aandeelhouers bestaan nie. Die Hof stem egter nie met die broers saam nie en staan ‘n bevel om likwidasie van die maatskappy toe. Die Hof se redes hiervoor dien as ‘n nuttige opsomming van hoe hierdie betrokke regsbeginsel in die praktyk toegepas word.
Drie gronde waarop ‘n solvente maatskappy gelikwideer kan word
Die Maatskappywet maak voorsiening vir ‘n hof om ‘n solvente maatskappy te likwideer op aansoek van die direkteur/e of aandeelhouer/s op enige van drie gronde –
- “Die direkteure ’n dooiepunt in die bestuur van die maatskappy bereik het en die aandeelhouers nie in staat is om die dooiepunt te verbreek nie, en—
- die dooiepunt onherstelbare skade aan die maatskappy tot gevolg het of tot gevolg kan hê; of
- die maatskappy se besigheid as gevolg van die dooiepunt nie tot voordeel van aandeelhouers in die algemeen bedryf kan word nie;
- Die aandeelhouers ’n dooiepunt in stemreg bereik het en vir ’n tydperk wat minstens twee agtereenvolgende algemene jaarvergaderingdatums insluit, versuim het om opvolgers te verkies vir daardie direkteure wie se termyne verstryk het; of
- Dit andersins billik en regverdig is vir die maatskappy om gelikwideer te word.”
Die maatstaf van “billikheid en regverdigheid” verleen aan ons howe ‘n wye diskresie om ‘n beslissing te maak wat op al die feite van elke betrokke saak gebaseer is. In hierdie geval het die hof bevind dat die effektiewe deelname van al die direkteure in die besigheid in wese tot stilstand gekom het. Die Hof het onder andere in ag geneem dat die direkteure sedert 2014 nie vergader het nie, asook die feit dat die suster geweier het om die jongste finansiële state van die maatskappy te onderteken.
Die Hof beslis dat “die direkteure nie met mekaar kommunikeer nie, en dat daar aansienlike persoonlike vyandigheid tussen hulle bestaan, tesame met ‘n gebrek aan vertroue en geborgenheid”, wat dit moeilik maak om te glo dat die maatskappy kan voortgaan met sake. Die afwesigheid van ondersteunende bewysmateriaal om van die suster se aantygings te staaf, doen nie afbreuk “aan die onbetwisbare werklikheid dat ‘n verbrokkeling in hul verhouding plaasgevind het, en dat daar ‘n wesentlike gebrek aan onderlinge geborgenheid en vertroue tussen die familielede bestaan nie”.
Onder hierdie omstandigheide was dit reg en billik om die maatskappy te likwideer.