GAAN 2017 BETER WEES AS VERWAG?

2016 was ons annus horribilis met droogte, politieke onsekerheid, lae kommoditeitspryse, stygende inflasie en ‘n swak wisselkoers.

Vanaf so ‘n lae basis, verwag ekonome dat dinge sal verbeter.

Wat gaan die ekonomie in 2017 aanspoor?

Betalingsbalans

Ons ekonomie toon ‘n aansienlike handelstekort, wat druk plaas op die Rand en inflasie. Soos met enige ekonomie, is dit belangrik om binne ons vermoë te leef. Aan die einde van Oktober was die tekort reeds R14 miljard, versus R60 miljard in 2015. Ons het ‘n oop ekonomie, wat beteken dat wanneer uitvoere toeneem en invoere afneem, ons ekonomiese welvaart skep. Hierdie ommeswaai in die tekort op die lopende rekening vanaf 2015, is ‘n teken dat die ekonomie begin om spoed op te tel.

Landbou

Ons het tans een van die ergste droogtes in menseheugenis. Behalwe vir die stremming op ekonomiese groei, is die droogte die grootste bydraende faktor tot stygende inflasie – voedsel inflasie is nou reeds meer as 11%. Die 2016/17 oes is op hande en lyk of dit ‘n rekordoes kan wees. Dit sal inflasie demp, die betalingsbalans verder verbeter en kan tot 1% bydra tot ekonomiese groei.

Kommoditeite

Sedert die wêreldwye finansiële krisis van 2008/2009, het die pryse van kommoditeite deurlopend geval. Ystererts het geval van $140 tot net $20 per ton. In 2016 het dit weer gestyg tot $80. Dieselfde tendens kan gesien word by ons groter kommoditeite soos goud en platinum. Omdat kommoditeite meer as die helfte van ons uitvoere uitmaak, sal die verbetering in pryse ook bydra tot ekonomiese groei, werkskepping en ‘n verdere verbetering in die betalingsbalans.

Die Rand

Die Rand het ‘n wipwaentjierit gehad in 2016 – op ‘n stadium het dit geraak aan R17 vir ‘n dollar. Vandag is dit R13.50 vir ‘n dollar. As dit binne hierdie grense bly, sal dit vertroue inboesem vir beleggers (en daarmee beleggings trek, wat die geldeenheid verder sal versterk) en inflasie in toom hou.

Maar …..

Baie faktore kan hierdie voorspelling ontspoor, soos politieke onstabiliteit, veral met betrekking tot die Minister van Finansies. ‘n Ekonomiese afgradering bly steeds ‘n moontlikheid en die wêreldekonomie beleef steeds baie onsekerheid. Ons moet ook onthou dat verbruikers onder druk was, terwyl die voorgestelde belastingstygings in die Februarie Begroting hierdie druk verder gaan verhoog.

Nietemin behoort ons positiewe groei te ervaar – dit kan selfs bo 2% wees. Hierdie groei kan die begin wees van ‘n positiewe groeisiklus. Onthou dat die ekonomie in siklusse beweeg en dat ons ‘n laagtepunt in 2016 beleef het, wat die teken kan wees van die einde van die afwaartse siklus. Ons bevolkingsgroeikoers is 1.7%, so enigiets bo dit beteken dat daar reële groei sal wees vir die ekonomie.