Gaan Die Betwiste Minimum Loon Goed Wees Vir Die Ekonomie En Vir Jou?

Vir baie jare was daar aansienlike druk op die regering om ‘n minimum loon vas te stel. Die adjunkpresident het ‘n studiegroep hieroor gelei en die regering, die sakesektor en vakbonde het in beginsel ooreengekom om ‘n nasionale minimum loon vas te stel – maar daar is steeds baie kwessies om uit te stryk.

Beïnvloed minimum lone indiensneming?

Dit word algemeen aanvaar dat hoë werkloosheid ons grootste probleem is en dat niks gedoen moet word wat dit kan vererger nie.

Bevindinge van ander lande was gemeng: sommige het meer werkloosheid, terwyl ander geen effek op indiensneming waarneem nie. Die slegte nuus is dat ontwikkelende lande waarskynlik meer werkloosheid sal ervaar – ‘n onlangse voorbeeld is Brasilië wat ‘n nasionale minimum loon ingestel het, wat gesien word as een van die bydraers tot die land se onlangse ekonomiese ellende.

Die navorsing toon dat die minder vaardige werkers die kwesbaarste is as ‘n minimum loon vasgestel word. Besighede probeer verliese besnoei deur die mins nodige werknemers af te lê. Die grootste werkloosheid is tans onder die jeug, waar dit meer as 50% beloop. Dit is duidelik dat die jeug die meeste op risiko is wanneer ‘n minimum loon vasgestel word.

Terwyl Suid-Afrika in die eerste ses maande van 2016 sowat 500 000 werksgeleenthede verloor het, moet ons die vraag vra: Kan ons ‘n minimum loon bekostig?

In Suid-Afrika steun voorstanders van ‘n minimum loon op die positiewe invloed wat inkomste toelaes op die ekonomie het – 17 miljoen mense is tans op toelaes soos kindertoelaes, gestremdheidstoelaes en ouderdomspensioen. Dit het aansienlike stukrag verleen aan die ekonomie, veral die kleinhandel sektor. Teenstanders van die argument ontken dit nie, maar wys daarop dat die toelaes ingestel was toe die land dit kon bekostig. Die land se begrotingstekort is tans baie hoog; en as dit nog styg, gaan dit amper verseker ‘n verdere afgradering in ons internasionale status tot gevolg hê.

Teenstanders van die argument sê ook dat baie sektore reeds wetlike minimum lone vasgestel het; waarom dan nog ‘n nasionale minimum loon ook?

Die verlore derde  

Tans is een derde van ons bevolking werkloos. Ekonome sê dat dit die hoofrede is vir ons swak ekonomie. Alle pogings moet aangewend word om struikelblokke uit te weg te ruim wat die werkloses verhoed om deel van die ekonomie te wees.

Dit het gelei tot vele versoeke vanaf arbeid- sake- en staatsektore om versperrings in die ekonomie te verwyder, eerder as om die risiko van groeiende werkloosheid te loop met minimum lone. Intussen woed die debat voort.