Is ons op pad na rommelstatus, of net belastingstygings?

“Ons moet wys dat ons sal hou by ons ondernemings oor konsolidasie, maar aan die ander kant moet ons baie daarop bedag wees dat fiskale konsolidasie sonder groei die ekonomie net verder benadeel.”  (Minister van Finansies Pravin Gordhan in sy Medium Termyn Begroting Beleidsverklaring)

Eerstens, wat is die Medium Termyn Begroting Beleidsverklaring (MTBBV)?  Dit is ‘n drie jaar vooruitskatting van Tesourie oor staatsfinansies en ‘n oefening in die deursigtigheid daarvan.  Waar die Februarie Begroting elke jaar die staat se werklike jaarlikse finansiële plan is, is die MTBBV ‘n interim verklaring wat die staat se prioriteite en bestedingsplanne beklemtoon, eintlik ‘n vooraf waarskuwing van wat ons in die toekoms kan verwag.

Dit is vanjaar besonder belangrik, omdat dit in ‘n tyd kom van ‘n graderingsverlaging deur die graderingsagentskappe, lae ekonomiese groei en die onsekerhede rondom die Minister van Finansies wat van bedrog aangekla word.

‘n Status verlaging tot rommelstatus (tans is ons een kerf bo rommel) sal die koste van skuld verhoog en sal bykans verseker lei tot ‘n afwaartse spiraal vir die Rand.

 Wat sê die graderingsagentskappe?

Daar is drie groot agentskappe:

  • S&P wil voortgesette fiskale konsolidasie (beperking van die land se skuldvlakke) en ‘n einde van politieke onrus sien.
  • Fitch is besorg dat die huidige politieke twis die Tesourie se greep op fiskale konsolidasie kan laat verslap.
  • Moody is die positiefste van die agentskappe. Suid-Afrika het ‘n sterk demokrasie, met fiskale stabiliteit en verwagte beter ekonomiese vooruitsigte.

Die agentskappe wil ook sien dat hindernisse vir ekonomiese groei, soos beperkende arbeidswette, aangespreek word.

 Ons ekonomie: ‘n verslagkaart

Sedert 2009 het ons moeilike tye beleef omdat kommoditeitspryse geval het. Dit het BBP groei beperk op ‘n tydstip wat maatskaplike toelaes verhoog is en ons elektrisiteitstekorte beleef het.

Dit het gelei tot stygende staatskuld, belastingverhogings en ‘n verbintenis deur die Tesourie om staatsuitgawes te beperk.

Tans is ons staatsuitgawes 34% van BBP, teenoor 31% vir opkomende ekonomieë. Belasting invorderings is 30% van BBP, terwyl die norm 27% is. Laastens is ons staatskuld as persentasie van BBP 46% en besig om te styg – die aanvaarde syfer is minder as 50%.

Minister Gordhan het dus strawwe uitdagings.

Die Minister se stemtoon was anders as by vorige interim begrotings. Hy het gepraat van ‘n volk wat saamstaan om ‘n regverdiger, meer deursigtige samelewing te skep, wat ongelykhede aanspreek en gelyke geleenthede toepas.

 Die sleutel statistieke

  • Inkomste (die belastings wat ons betaal) gaan hierdie jaar R23 miljard onder begroting wees. Dit gaan die tekort verhoog tot 3.4% van BBP (3.2% was begroot). Die Minister voorspel dat dit sal afneem tot 2.5% in die begrotingstydperk.
  • Om die inkomstetekorte te dek, gaan belastings verhoog word met R43 miljard in die volgende twee jaar, waarvan R28 miljard in die eerste jaar. Die voorgestelde koolstof- en suikerbelastings sal verseker deel wees daarvan.
  • Die plafon vir uitgawes gaan verlaag met R10 miljard volgende jaar en met ‘n verdere R16 miljard in die daaropvolgende twee jare.
  • Inflasie word voorspel as 6.1% vir hierdie jaar, 6% vir volgende jaar en 5.9% in die jaar daarna.
  • Staatskuld as persentasie van BBP gaan hierdie jaar 45.8% wees en gaan oor drie jaar stabiliseer op net onder 48%.
  • BBP gaan vanjaar groei met 0.5%, volgende jaar met 1.3% en in 2019 met 2%.
  • Finansiële bystand aan studente sal R17 miljard ekstra wees.
  • Die bevriesing van staatsdiensposte sal voortduur. Dit sal staatsdiensposte verminder met ‘n geskatte 25 000 in die drie jaar tydperk.
  • Voortgesette voorsieningskanaal maatreëls om doeltreffendheid en besparing te verbeter.

In ‘n moeilike ekonomiese klimaat, het die Minister sy toegewydheid tot fiskale omsigtigheid gewys. Dit is nodig vir die ekonomie, maar ook belangrik vir die graderingsagentskappe.

 Die rommelstatus gevaar: Hou die graderingsagentskappe gelukkig

Soos hierbo gesê, wil die agentskappe maatreëls sien wat die ekonomie laat groei en politieke onrus verminder.

Die Minister het aangekondig:

  • Die rade van die SAL en die Poskantoor is hersaamgestel om bestuur en oorsig te verbeter.
  • Die staat beoog om beleidsekerheid te skep by telekommunikasie en toerisme.
  • Vordering is gemaak met arbeidsverhoudinge, soos blyk uit die daling in stakings na onderhandelinge met vakunie leiers.
  • Voortgesette voorsieningskanaal besparings na die inwerkingstelling van ‘n gesentraliseerde verkrygingsdatabasis. Onderhandelinge word gevoer met sleutel voorsieners om R25 miljard per jaar te bespaar teen 2019.
  • Gesprekke met HUB’s blyk suksesvol te wees, met R1.5 miljard wat beskikbaar gestel is om kleinsake te laat groei. Uiteindelik is die doelwit om die privaatsektor sover te kry om in die ekonomie te belê – privaatsektor belegging is tans baie laag.
  • R45 miljard is geoormerk vir industrialisasie en volhoubare hulpbron bestuur.
  • R58 miljard gaan belê word deur Onafhanklike Kragprodusente vir nuwe energieprojekte wat 2 354 MW tot die kragnetwerk gaan toevoeg.
  • Meer as R900 miljard is geoormerk vir infrastruktuur projekte.

Bogenoemde maatreëls sal hindernisse vir groei vir die volgende paar jare wegneem.

 So hoe gaan dit alles vir ons raak?

  • Belastings sal definitief styg. Die besonderhede daarvan sal ons eers in die Februarie begrotingstoespraak hoor.
  • Ons huishoudings se begrotings gaan onder toenemende druk kom, veral as ons na rommelstatus val. As dit gebeur, verwag ‘n toename in rentekoerse, ‘n swakker Rand, hoër inflasie en prysstygings.
  • Samevattend, het die Minister voldoen aan die vereiste in sy aanhaling hierbo; en dit skep hoop. Die geldeenheid het (tydens die skryf hiervan) sy vlakke behou, wat aandui dat die buitelandse en plaaslike beleggers nie ontevrede is met die begroting nie.