Jou KMO: King IV korporatiewe bestuurskode mag op jou van toepassing wees

Die King verslae die laaste twee dekades het plaaslik en internasionaal sinoniem geword met goeie korporatiewe bestuur. Tot nou het die King Kode ‘n beperkte invloed gehad op klein en mediumgrootte ondernemings (KMO’s). Dit is belangrik om te weet dat die King Kodes vrywillig is.

Wat betref die jongste King IV Verslag (dit is vrygestel vir kommentaar en sal eers finaal wees wanneer alle kommentare oorweeg is) is aanvullende gedeeltes vrygestel vir verskillende soorte organisasies om verslag te doen oor korporatiewe bestuur. Een van hierdie aanvullende gedeeltes het toepassing op KMO’s.

Hoe definieer King IV ‘n KMO?

‘n Maatskappy met ten minste 350 punte ingevolge die Maatskappywet se Openbare Belang telling word beskou as ‘n KMO. Die punte is ‘n kombinasie van omset (1 punt per R1 miljoen), werknemers (1 punt per werknemer), derdeparty skuld (1 punt per R1 miljoen) en aandeelhouers (1 punt vir elke aandeelhouer).

Dit lyk dus of King IV meer van toepassing is op mediumgrootte as klein entiteite.

Waarom hierdie kodes implementeer as dit vrywillig is?

Op die lang termyn is daar ‘n sterk verband tussen volhoubaarheid en goeie bestuur. Goeie bestuur kan byvoorbeeld help om toegang tot finansiering te bekom, en ‘n goed bestuurde besigheid sal op die lange duur die mark oortref.

Wat vereis die kodes?

Die beginpunt is goeie etiese leierskap – as ‘n organisasie dit het, het dit ook altyd goeie bestuur – die direksie moet dus lei op ‘n verantwoordelike, deursigtige en regverdige manier. Hierdie grondslag behoort van toepassing te wees op alle besighede en die etos van ‘n besigheid word gewoonlik geskep vanaf sy beginjare.

Die samestelling van die direksie behoort te verseker dat dit die vaardighede en onafhanklike denke het om doeltreffend te bestuur, beheer en verslag doen.

Om voldoende beheer te verseker, bepaal die kodes dat die direksie die volgende bestuur:

• Risiko en geleenthede,
• Tegnologie en inligting,
• Nakoming van alle wette,
• Billike vergoedingsbeleide,
• Goeie verhoudings met belanghebbers en
• Versekering dat voldoende beheer en akkurate verslagdoening geskied.

Eweredigheid

Wanneer prosedures ingestel word om aan die King IV Verslag te voldoen, sal die grootte van die organisasie die hulpbronne bepaal wat nodig is om aan die kodes toe te wys. Terwyl ‘n groot maatskappy byvoorbeeld ‘n oudit en risiko komitee mag hê, sal ‘n mediumgrootte maatskappy dalk iets soos 25% van ‘n direkteur se tyd afstaan om aan die vereistes van die Verslag te voldoen. Elke organisasie sal sy eie oordeel toepas.

Openbaarmaking

In jou organisasie se jaarverslag behoort daar ‘n afdeling te wees oor hoe die Verslag geïmplementeer word. ‘n Paar standaard bewoordings word voorsien in die King IV Verslag, maar dit is nie voorskriftelik nie.

Goeie bestuur maak besigheidsin op die langtermyn, so dit is die moeite werd om ‘n voorraadopname te doen van waar jou besigheid staan ten opsigte van hierdie aangeleentheid.