Jou skriftelike kontrak moet alles dek – geen mondelinge getuienis later toegelaat!

Ons almal weet hoe belangrik dit is om ooreenkomste op skrif te plaas, selfs waar ons reg nie spesifiek van ons vereis om dit te doen nie. Dit maak sin om vooraf seker te maak dat alles waarop ons ooreengekom het volledig en duidelik op skrif uiteengesit is. Om dit nie te doen nie, is ‘n resep vir dispute, vertragings en duur litigasie.

Wat gebeur wanneer iets waarop julle mondelings ooreengekom het, vir een of ander rede nie in die skriftelike kontrak vervat is nie? Kan jy mondelinge getuienis lewer om dit te bewys of te bevestig? ‘n Onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl illustreer die regs- en praktiese beginsels wat hier ter sprake is. Hier was die betrokke partye ‘n vrugte- en wynplaas en die boorder van boorgate. Hy het sy vernuf as waterwyser gebruik om water op te spoor. Die punt in geskil – het die boorder die boorgat se wateropbrengs in hul ooreenkoms gewaarborg of nie.

Hier is weer ‘n waarskuwing van ons howe om seker te maak dat al jou ooreenkomste behoorlik opgestel is. Die bepalings van jul ooreenkoms moet volledig en akkuraat op skrif uiteengesit word.

Die probleem wat ontstaan indien enigiets uitgelaat word – of indien daar ooreengekom word op iets wat nie volledig in die kontrak uiteengesit is nie – is ons reg se “ekstrinsieke-getuienis-reël”.

‘n Onlangse uitspraak van ons Hoogste Hof van Appèl illustreer hoe hierdie reël in die praktyk toegepas word. Die feite van die saak sal bekend klink vir menigte boere, besighede en stadsbewoners wat leë damme in droogte-geteisterde areas in die gesig staar.

Die waterwyser en die boorgat met “onvoldoende opbrengste”

  • ‘n Vrugteplaas en wyn-landgoed het ‘n kontrakteur se kwotasie aanvaar om ‘n boorgat te boor.
  • Die kontrakteur het sy vernuf as waterwyser en sy ondervinding van 20 jaar met sukses aangewend om ‘n goeie area te vind om te boor. Hy het op sy standaardbeleid van “Geen Water, Geen Betaling” geboor. Die plaas het die kwotasie aanvaar, met ‘n aanpassing wat vereis het dat daar tot by 70 meter geboor moes word (of tot by 100 meter indien geen water by 70 meter gevind word nie).
  • Die boorgat van 76 meter diep het ongeveer 4,000 liter water per uur opgelewer – iets wat, soos die Hof dit gestel het, “die meeste boere in hierdie land breed sal laat glimlag”.
  • Ten spyte van die boorgat wat “met oorgawe deur die [plaas] gebruik is om die boorde nat te maak”, het die plaas geweier om die boorkontrakteur ‘n sent te betaal. Die plaas voer aan dat die water-opbrengs nie voldoende was om die kontrakteur se ooreengekome verpligtinge na te kom nie.
  • Na ‘n lang (en duur) regstryd deur die howe, het die geskil in die Appèlhof geëindig.
  • Een van die plaas se verwere tot die eis (en die een relevant tot hierdie artikel) was dat die kontrakteur ‘n minimum water-opbrengs van 10,000 liter per uur gewaarborg het. Die kontrakteur het dit hewig ontken.

Mondelinge getuienis word hier nie toegelaat nie – dit is die skriftelike kontrak wat saak maak

  • Die verweer gaan nie op nie, sê die Hof. ‘n Waarborg oor water-opbrengs “is nie wat die ooreenkoms bepaal nie, en om te beslis dat daar op so ‘n waarborg ooreengekom is, sal die reël teen ekstrinsieke-getuienis oortree. Waar die partye hul ooreenkoms skriftelik uiteengesit het, word hierdie skriftelike ooreenkoms die uitsluitlike rekord van die partye se transaksie; geen mondelingse getuienis mag aangevoer word om die bepalings daarvan buiten soos vervat in die dokument self, te bewys nie. Die inhoud van die dokument mag nie met mondelinge getuienis weerlê, verander, of gewysig word nie en ook nie daartoe bygevoeg word nie.” (Eie beklemtoning)
  • Op hierdie basis is “die aansienlike getuienis wat deur beide partye aangebied is met betrekking tot hul onderhandelinge en hul bedoelings, duidelik ontoelaatbaar.” Al wat van belang was, was die feit dat die kontrak uitdruklik bepaal het dat betaling verskuldig sou wees indien die boorgat water opgelewer het, en nie “droog” was nie – die werklike opbrengs was irrelevant.
  • Die plaas het ook probeer om ‘n geïntegreerde benadering te volg. Hiervolgens, indien die ooreenkoms gedeeltelik mondeling en gedeeltelik op skrif gestel is, kan getuienis oor die mondelinge deel van die ooreenkoms aangebied word. Die hof bepaal egter dat hierdie benadering nie gebruik kan word om die skriftelike gedeelte van die ooreenkoms teen te gaan of te probeer wysig nie. Dit is natuurlik juis wat hulle hier probeer doen het.

Dit was dan die einde van daardie invalshoek. Die plaas moet die boorgatrekening ten volle vereffen, tesame met die regskostes van die verskillende hofprosesse.