Jy en die 2017 Begroting: Belastingverhogings Nou Aan Die Orde Van Die Dag

Daar was baie verwagtinge oor hierdie begroting en daar is steeds baie onbeantwoorde vrae:

  • Hoe gaan die verwagte belastingverhogings uitspeel?
  • Gaan die Minister van Finansies en sy adjunk hulle werk behou?
  • Gaan die begroting “radikale ekonomiese transformasie” insluit, wat die laaste paar maande die President se mantra was?
  • Hoe gaan die graderingsagentskappe die begroting sien en gaan ons nou afgradeer word?

Die belastingverhogings

Die Minister moes R28 miljard addisionele inkomste vind, wat gaan kom uit die volgende:

  • Verhoging van die top marginale inkomstebelasting koers vir individue van 41% tot 45%. Hierdie drempel word bereik met ‘n belasbare inkomste bo R1.5 miljoen. Dit gaan net meer as 100 000 belastingbetalers raak en gaan na verwagting R4.4 miljard bydra.
  • Blokkruiping gaan nog R12.1 miljard tot belasting inkomste bydra. “Blokkruiping” gebeur wanneer die inkremente van die inkomstebelasting glyskaal met minder toeneem as inflasie. Die Tesourie ontvang dus meer inkomste ten koste van die belastingbetalers.
  • Die verhoging van dividend belasting van 15% tot 20% gaan R6.8 miljard bydra tot belasting inkomste.
  • Toename in “sonde” belasting en brandstofheffings – nog R5.1 miljard.
  • “Suikerbelasting” gaan iewers in 2017 ingestel word, afhangend van wanneer die wetgewing deur die Parlement goedgekeur word. Die voorgestelde koers van die belasting is verminder van 20% tot ongeveer 11%.
  • Koolstofbelasting was verwag, maar dit lyk onwaarskynlik dat dit voor 2018 gaan realiseer.

Addisioneel hiertoe, loop die Vrywillige Openbaarmaking Program (Engels: Voluntary Disclosure Program – VDP) nog tot 31 Augustus. Sover is byna R4 miljard in buitelandse bates verklaar, wat R600 miljoen aan die fiscus gaan besorg.

Hierdie verhogings behoort meer as R28 miljard te genereer, maar die Tesourie is onseker oor SARS se vermoë om voort te gaan om die toenemende inkomste te lewer soos in die verlede. In 2016/17 gaan die invordering van inkomste na verwagting R27 miljard onder die mikpunt wees. Party kommentators skryf dit toe aan die struwelinge in SARS, wat reeds gelei het tot die vertrek van die meerderheid van senior bestuur. Maar dit is nie moontlik om onbepaald inkomste mikpunte te verhoog nie, veral as die nuus soveel stories oor korrupsie insluit. Op een of ander stadium skop realiteit in; en dit is wat nou gebeur.

Die Tesourie moet nou belasting beleid mooi herbedink en dat ‘n BTW koersverhoging nie veel langer uitgestel kan word nie. Daar word reeds oorweeg om BTW by die brandstofprys te voeg (dit is tans nulkoers).

Die goeie nuus…

  • Oordragkoste (hereregte) is nou net van toepassing op die aankoop van vaste eiendom bo R900 000 (voorheen bo R750 000). Dit gaan R400 000 aan belastingbetalers teruggee en hopelik sal dit eiendomstransaksies vir eerste keer kopers en koop-om-te-verhuur kopers stimuleer.
  • R20 miljard gaan bespaar word op staatsbesteding. Geen besonderhede is gegee nie.
  • 9 miljard gaan geoormerk word vir kleinsake.
  • Die belastingvrye spaar toelaag is verhoog van R30 000 tot R33 000.
  • Die samewerking tussen Tesourie en die sakesektor was goed sover en het ‘n afgradering help voorkom. Die sakesektor beplan om oor die volgende drie jaar ‘n miljoen leerlingskappe aan die jeug te bied. Daarby is R1.5 miljard in ‘n fonds gestort om klein besighede by te staan.

Hierdie samewerking met die sakesektor (asook arbeid met die minimum loon ooreenkoms) skep nuwe dinamika in die ekonomie. Minister Gordhan praat dikwels van ‘n nuwe sosiale samewerking om ekonomiese groei te bevorder; en hierdie is bewys daarvan dat dit begin om positiewe resultate te lewer.

  • Inflasie gaan afneem van 6.6% (wat dit nou is) tot 5.7%.
  • BBP gaan hierdie jaar groei met 1.3% teenoor 0.4% verlede jaar.
  • Die begrotingstekort gaan 3.1% van BBP wees, teenoor 3.2% vanjaar.
  • ‘n Addisionele R5 miljard is geoormerk vir studentegelde.

Daar is steeds gevare

Die totale staatskuld het oor die laaste 8 jaar gestyg en staan nou op 50.7% van BBP. As jy die staatsentiteite (Eskom, SAL, Transnet, ens) intel, het dit gestyg tot meer as 60%. Dit reken om na R169 miljard se rente wat deur die staat betaal word – rente is tans die vinnigsgroeiende uitgawe op die inkomstestaat.

Miskien van meer belang, is dat ekonomiese groei stagnant is. Soos hierbo gesien, raak dit al hoe moeiliker om belastings te verhoog. Die pad uit ‘n groeiende begrotingsdooiepunt, is ekonomiese groei. Strukturele hervorming is nodig om die ekonomie aan die gang te kry, maar daar blyk min politieke wil daarvoor te wees.

Die afgraderingspotensiaal

Graderingsagentskappe wil finansiële dissipline sien (wat Minister Gordhan weer gewys het), asook minder politieke onstabiliteit en ‘n plan om ekonomiese groei te laat herleef. Die tyd sal leer hoe die land die laasgenoemde twee probleme gaan hanteer.

Die Begroting is herverdelend

62% van inkomstebelasting gaan betaal word deur diegene met ‘n belasbare inkomste bo R500 000. Niemand bevraagteken die billikheid daarvan dat die rykes meer belasting moet betaal nie, maar die rykes word gelooi – neem in ag dat dividendbelasting en kapitaalwins belasting ook styg. Belasting inkomste begin afneem en daar is ‘n goeie kans dat die rykes toenemend gaan soek na wettige maniere om hulle belasting aanspreeklikheid in die toekoms te verminder.

“Radikale ekonomiese transformasie”

Die Minister het meer as vyftig keer verwys na transformasie. “Radikale ekonomiese transformasie” is die nuwe beleid wat die president aangeneem het. Vir dit om in die 2017/2018 syfers weergegee te word, word ‘n totale verandering vereis in die manier waarop die Tesourie die begroting saamstel. Omdat die nuwe beleid later in die jaar gekom het, het die Tesourie nie die tyd gehad om te reageer op hierdie klemverskuiwing nie. Terwyl die Minister dus gepraat het van “radikale ekonomiese transformasie”, was die huidige begroting steeds ‘n voortsetting van vorige begrotings.

Nietemin het hy een of twee waarhede kwytgeraak, soos “Ons moet transformeer om te kan groei; ons moet groei om te kan transformeer. Sonder transformasie, sal groei ongelykheid bevorder; sonder groei sal transformasie verwring word deur begunstiging”.

Minister Gordhan het weereens ‘n geloofwaardige begroting gelewer. Dit is ook duidelik dat die tyd aangebreek het vir die nodige stappe wat geneem moet word om die ekonomie te laat groei.