“…dit kan nie reg en billik wees om ‘n persoon weer in die posisie aan te stel wat hy in die eerste plek verkry het deur valse verklarings en voorstellings aan die werkgewer te maak nie.” (Deel van die uitspraak van die Arbeidsappèlhof wat hieronder hanteer word.)
Werkgewers en werknemers kan gerus kennis neem van ‘n onlangse uitspraak wat weereens beklemtoon dat ‘n werknemer verplig is om ten alle tye met eerlikheid en integriteit teenoor sy werkgewer op te tree.
Die finansiële bestuurder van 82 wat hom as ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester voorgedoen het
- ‘n Maatskappy met ‘n gebruiklike aftree-ouderdom van 65, het ‘n finansiële bestuurder van 82 aangestel.
- Die maatskappy het die aanstelling gemaak op sterkte van sy kennis en werksondervinding asook die indrukwekkende kwalifikasies wat hy op sy CV aangedui het. Dit sluit B.Com en MBA grade in asook die professionele kwalifikasie as ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester. (CA (SA))
- Hy is vier jaar later deur sy werkgewer versoek om bewyse van die kwalifikasies voor te lê. Hy moes toe erken dat hy nie oor die aangeduide kwalifikasies beskik het nie.
- Hy het egter aangevoer dat hy wel voldoende ervaring en kennis opgedoen het en dat hy oor jare al die tegniese vaardighede verwerf het om sy pligte en funksies te kon verrig. Hy het ook beweer dat die professionele kwalifikasie as ‘n CA(SA) nooit ‘n vereiste vir die pos was nie. Hy beweer dan dat hierdie slegs ‘n poging van die werkgewer was om hom te verplig om te bedank.
- Die aangeleentheid is aanvanklik deur die CCMA aangehoor (KVBA – die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie). Die CCMA het die ontslag tersyde gestel en het ook vergoeding van R300 000 aan die werknemer toegeken.
Growwe oneerlikheid = billike ontslag
Die Arbeidshof het die bevinding egter hersien. Die hof bevind dat die oorspronklike ontslag van die werknemer inderdaad billik was –
- Die werknemer het tydens sy werksonderhoud sy CV ingedien waarin hy valslik beweer het dat hy ‘n CA(SA) was, terwyl hy nie geregistreer was nie en ook nie sodanige kwalifikasie verwerf het nie.
- Hierdie kwalifikasie was ‘n wesentlike faktor toe hy aangestel is bo die ander twee kandidate wat oorweeg was. Die feit dat dit nie ‘n vereiste vir die pos was nie, doen nie afbreuk aan die werknemer se growwe oneerlikheid nie.
- Hy het ook nie geskroom om ander valse voorstellings te maak dat hy oor B.Com en MBA grade beskik het terwyl dit nie so was nie. Hy het ook geen verskoning aangebied of enige berou getoon nie.
- Die hof bevind dat die oorspronklike ontslag deur en deur geregverdig was. Die vergoeding van R300 000 word dan ook tersyde gestel.