Wees bewus van die risiko met notulebesluite

“The devil’s in the detail” (wise old idiom)

 Die “nuwe” Maatskappywet (“die Wet”) het ‘n paar vereistes wat maklik misgekyk kan word. Hulle mag klein en tegnies lyk, maar deur nie daaraan te voldoen nie, kan jy jou aan groot risiko’s blootstel. In ons toenemend prosedeersieke samelewing, is dit belangrik om deeglik te wees.

 As voorbeeld – notulebesluite moet opeenvolgend genommer wees

 Behalwe dat dit gedateer moet wees, moet notulebesluite opeenvolgend genommer wees. Die Wet maak dit nou moontlik (onderhewig aan die Akte van Oprigting) om besluite te neem deur elektroniese media, wat dit moeiliker maak om tred te hou van besluite.

Maak seker dat jou maatskappy so ‘n nommerstelsel toepas. Indien jy jou maatskappy sekretariële funksie uitkontrakteer, kyk of jou diensverskaffer die vereiste nakom.

Die gevaar vir direkteure

 Die Maatskappywet bevat ‘n algemene bepaling dat enige persoon wat enige bepaling van die Wet oortree, aanspreeklik is teenoor enige ander persoon vir enige verlies of skade as gevolg van daardie oortreding. Jy is dus blootgestel aan wesenlike aanspreeklikheid en behoort kennis te neem van hierdie en ander bepalings, ongeag hoe tegnies dit mag voorkom.

Hou rekord van hoe direkteure stem by vergaderings en as besluite geneem word

 Dit maak sin om rekord te hou van hoe elke direkteur gestem het oor enige saak, omdat direkteure aanspreeklik is vir verliese van die maatskappy wat voortspruit uit die versuim van hulle fidusiêre plig of nie-nakoming van ‘n voorgeskrewe gedragskode.

Een van die verwere beskikbaar vir direkteure wanneer onwettige besluite deur die raad geneem word, is om te kan wys dat hy daarteen gestem het. Deur dus aan te teken hoe elke direkteur gestem het, kan vinnig bepaal word wie die besluit teengestaan het. Onthou dat eise teen direkteure baie jare later eers mag opduik.

Direkteure is belas met die oorsig en beheer van maatskappye, so moenie die klein dingetjies miskyk nie – hulle kan terugkom en by jou kom spook.