“Privaatheid, soos ander regte, is nie absoluut nie. Soos wat ‘n mens in die handelsverkeer in sosiale en sakeverbintenisse tree, word die omvang van jou persoonlike ruimte al kleiner.” (Informele vertaling uit die uitspraak hieronder.)
Alle maatskappye, of hulle groot of klein is, of hulle openbare of private maatskappye is, word regtens verplig om volledige registers van hulle aandeelhouers en direkteure te hou. Die Appèlhof het onlangs bevestig dat selfs die registers van private maatskappye nie privaat is nie.
‘n Ondersoekende joernalis delf diep
‘n Ondersoekende finansiële joernalis het die aandeelhoudingstrukture van drie maatskappye in ‘n omstrede beleggingskema ondersoek.
Die maatskappye het geweier om aan hom toegang tot hul aandeelregister te gee. Gevolglik het hy hom tot die hof gewend vir hulp.
Die maatskappye het ‘n beroep op die hof gedoen, om die hof se diskresie uit te oefen en om die gevraagde toegang tot die registers te weier.
Die aangeleentheid het in die Appèlhof geëindig en die Appèlhof het meer duidelikheid rondom die publiek se regte gegee-
- Die breë publiek (insluitende die media) het ‘n ongekwalifiseerde reg om enige maatskappy se registers na te gaan of afskrifte daarvan te maak, teen betaling van die vasgestelde statutêre fooi.
- Die motief van die persoon wat toegang verlang is totaal irrelevant. Die persoon is ook nie onder enige verpligting om aan te toon dat die versoek “redelik” is nie.
- Die aansoeker hoef ook nie aan die vereistes van PAIA (Die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting) te voldoen nie. PAIA kan wel nuttig gebruik word om toegang tot ander dokumente van die maatskappy te verkry.
- Dit is ‘n strafregtelike oortreding vir ‘n maatskappy om sodanige toegang te weier of op ‘n ander manier te belemmer, daarmee in te meng of enige persoon wat hierdie regte uitoefen se pogings te probeer verydel.
Watter aandeelhouersinligting is dus publiek en wat is vertroulik?
‘n Aandeelhouer is slegs verplig om die volgende inligting bekend te maak-
- Sy / haar naam,
- Sy / haar besigheids-, residensiële of posadres; en
- ‘n Nommer wat daardie persoon identifiseer en uniek is aan daardie persoon.
Die aandeelhouer kan ook vrywilliglik ‘n e-pos adres verskaf.
Slegs die e-pos adres (indien verskaf) en die identiteitsnommer is privaat. Beide die maatskappy en die aandeelhouer kan hul op die vertroulikheid daarvan beroep. Die name en adresse is egter oop en moet aan die publiek bekend gemaak word.