“Now is the winter of our discontent” (Shakespeare)
Rentekoerse is die eerste wat sal styg. As jy ‘n verbandlening het of ‘n motor gefinansier het, gaan jou maandelikse paaiemente styg. As ‘n growwe voorbeeld, sal die paaiement op ‘n verbandlening van R500 000, R837 meer per maand kos as rentekoerse met 2.5% sou toeneem.
Die volgende skok sal ‘n verdere verswakking van die Rand wisselkoers wees, waarvoor die redes in die volgende artikel bespreek word. Die petrolprys gaan toeneem. Dit gaan op ‘n slegte tyd gebeur, omdat dit lyk of die prys van ru-olie nou begin styg. Die val van die Rand gaan dit vererger – ons kan aanvanklik ‘n styging van R1 per liter sien, met voortdurende maandelikse stygings daarna.
Petrolprys stygings lei tot ‘n verskeidenheid van kostestygings – van vliegtuigkaartjies tot kos. Baie van die basiese voedselsoorte (byvoorbeeld mielies) se prys word in dollars vasgestel en dit gaan lei tot verdere kostedruk.
Ons het op die oomblik ‘n paar strydlustige vakbonde en ons kan onmiddellike eise vir hoër lone verwag, wat tot inflasiedruk sal bydra.
Al hierdie kostestygings sal die ekonomiese groei verminder; en omdat die huidige groeikoers tans net 0.6% is, is daar ‘n sterk moontlikheid dat die ekonomie ‘n resessie sal ingaan.
Ons kan daarom ‘n tydperk van lae of negatiewe groei sien, gekombineer met stygende inflasie en ‘n verswakkende wisselkoers wat meer rentekoers stygings tot gevolg sal hê. Dit skep die potensiaal vir die wanbetaling van skuld – onthou 1985, toe rentekoerse tot 25% gestyg het. In die verband voorbeeld hierbo, sal dit omreken na paaiemente wat met meer as R5 500 per maand toeneem.
Die gemiddelde tyd wat dit neem om te herstel van ‘n afgradering na rommelstatus, is 7½ jaar. Ons beleef reeds moeilike ekonomiese toestande – ‘n val tot rommelstatus sal die land in ‘n lang “winter of discontent” plaas.