Rommelstatus Is Nou ‘n Werklikheid – Hoe Gaan Dit Ons Raak

Dinge het vinnig gebeur – op 31 Maart is die Minister van Finansies en sy Adjunk afgedank. Die volgende week het die graderingsagentskappe Fitch en S&P Suid-Afrika se skuld tot rommelstatus afgradeer.

Waarom die gedempte reaksie?

Gedurende Desember verlede jaar, toe mnr Nene as Minister van Finansies vervang is, het dit gelyk of ons van ‘n krans afgeval het – die Rand het getuimel en rentekoerse het skerp gestyg. Sedertdien was daar vier pogings om mnr Gordhan te vervang, so die markte was nie verras met die gebeure van 31 Maart nie.

Tog was daar gevolge – rente sensitiewe aandele het met R190 miljard geval, Suid-Afrikaanse effekte het R100 miljard in waarde verloor, die Rand is 10% swakker teenoor die VSA dollar en die koste om Suid-Afrikaanse skuld te finansier het met R1 miljard per jaar toegeneem.

Die gebeure tot dusver …  

Twee van die grootste graderingsagentskappe  – Fitch en S&P – het ons buitelands gedenomineerde skuld tot rommelstatus verlaag. Fitch het ook ons Rand gedenomineerde skuld afgradeer. Vir afgraderings om die verkoop van landsbates aan die gang te sit, is gewoonlik nodig dat twee van die drie agentskappe rommelstatus toeken. Maar omdat buitelands gedenomineerde skuld net 10% van ons totale skuld uitmaak, was die reaksie nie so dramaties as wat baie verwag het nie. As ons plaaslike skuld ‘n afgradering van Moody’s ontvang (hulle besluit nog hoe om op Maart se gebeure te reageer), gaan dit ‘n baie groter effek hê, veral omdat 35% van ons plaaslike skuld deur buitelandse beleggers gehou word.

Ons was voorheen by rommelstatus ná ‘n skuld wanbetaling in die middel 1980’s en ons het eers uit rommelstatus gekom in 1999. Sien hieronder die grafiek van ons graderingsgeskiedenis sedert 1994:

Chart 1

Wat nou?

Die nuwe Minister van Finansies en sy span moet vinnig geloofwaardigheid in die Tesourie herstel. Die nasie behoort net te betaal wat hy kan bekostig en beheermaatreëls oor staatsbeheerde entiteite (soos Eskom) behoort verbeter te word.

Mnr Gordhan het die vertroue van buitelandse beleggers gehad. Beide Fitch en S&P het dit duidelik gemaak dat hulle vrees dat Suid-Afrika nie by sy bestaande Tesourie beleide gaan bly nie.

Ons kan een van twee weë kies:

  • Die pad wat deur die graderingsagentskappe gevrees word, naamlik die een wat gaan lei tot verdere reddingshulp vir staatsbesighede en toenemende owerheidsbesteding (op byvoorbeeld die kernkrag program). Dit gaan lei tot laer of geen ekonomiese groei en ‘n gelykmatige afwaartse spiraal, wat op sy beurt verdere afgraderings en ‘n IMF redding tot gevolg kan hê.
  • Behou die fiskale beleid van die vorige twintig jaar, wat verdere afgraderings kan verhoed en die land binne ‘n jaar of twee uit rommelstatus kan laat herrys.

Die gewone man

Daar gaan minder besteebare inkomste wees namate brandstofprys stygings, ‘n verswakkende wisselkoers, meer rentekoers stygings en trae ekonomiese groei ons vermoë om ons lewensstandaard te verbeter, gaan belemmer.

Dit is kommerwekkend dat meningsopnames toon dat 30% van “welgestelde” Suid-Afrikaners (wat beteken hulle leef gemaklik en kan onvoorsiene toekomstige uitgawes hanteer) gaan sukkel om ‘n onvoorsiene rekening van R20 000 te hanteer. Al hoe meer mense leef marginaal en gaan nog meer ly onder die afgradering.

Ons kan ook verwag dat werkloosheid gaan styg en beleggings gaan afneem (veral omdat buitelandse beleggings wesenlik minder gaan raak). Gedagtig aan die feit dat die BBP per capita nie toegeneem het sedert 2013 nie, moet mens wonder hoe lank die maatskaplike struktuur gaan hou.

Fin24 se “Infographic” hieronder verduidelik dit goed:

Chart 2