SARS Vereenvoudig sy Alternatiewe Geskilbeslegting Stelsel via eFiling

Tydens ‘n geskilproses kan essensiële dokumente dikwels nie bekom word nie. ‘n Versoek aan SARS om byvoorbeeld ‘n aanslag te verduidelik, word ingedien, maar raak dan verlore of haak iewers vas in die SARS stelsel. Teen die tyd wat dit opgespoor word en SARS op die versoek reageer, is die tydperk waarbinne ‘n beswaar aangeteken mag word, verstreke. ‘n Beswaar wat dan deur SARS ontvang word, word nie aanvaar nie. Soortgelyk, mag dit gebeur dat SARS ‘n e-pos stuur aan ‘n persoon wat nie dadelik daarop reageer nie weens omstandighede soos ‘n buitelandse reis.

Die 3 nuwe eFiling verbeteringe

Sedert 17 Mei 2017 is daar welkome verbeterings aan die eFiling stelsel –

  1. Die eerste verbetering is die geoutomatiseerde Versoek om Redes (Engels: Request for Reasons), wat jou dertig besigheidsdae gee om ‘n beswaar in te dien vandat SARS reageer op die versoek.
  • Hierdie fasiliteit kan gebruik word vir Inkomstebelasting (persoonlik en maatskappye) en vir BTW.
  1. Die tweede verandering is om BTW betalers toe te laat om ‘n opskorting van betaling via eFiling te versoek, in afwagting van die uitkoms van ‘n geskilproses. Die huidige wetgewing pas die “betaal nou, argumenteer later” reël toe, tensy uitstel vir betaling beding kan word.
  • Dit is soortgelyk aan die Versoek om Redes en word ook verwelkom deur belastingbetalers en belastingpraktisyns.
  1. Laastens, het SARS ‘n fasiliteit op eFiling geskep om aansoek te doen vir ‘n laat indiening van ‘n beswaar – jy dien ‘n Versoek om Redes, Kennisgewing van Appèl of Kennisgewing van Beswaar in na die tydperk daarvoor reeds verstreke is. Jy sal wel redes vir die laat hantering moet voorlê. SARS sal dan die redes vir die laat indiening oorweeg voor die Versoek om Redes, ens. Belastingkundiges is onseker oor hoe hierdie fasiliteit gaan werk, omdat die wese van die beswaar deurslaggewend is in die besluit om jou toe te laat om met ‘n geskil met SARS voort te gaan.

Hierdie is sinvolle verbeterings en behoort kommunikasieprobleme te verminder.  SARS eFiling is ‘n sentrale verwysingspunt vir beide belastingbetalers en SARS; en een kanaal van inligting sal beide partye help.