“Sy wou net nie aanspreeklik wees as hy nie sy finansiële verpligtinge nakom nie. Dit bly ongelukkig ‘n algemene verwyt van diegene wat borg staan vir ‘n skuldenaar wat versuim om sy finansiële verpligtinge na te kom.”
In die begin…. is jy heeltemal rustig. Die bank wil nie die lening aan jou seun/dogter/beter helfte/vennoot/maatskappy/trust/vriend toestaan nie tensy jy van jou kant af borg teken nie. Jy oorweeg dit van alle kante en besluit dan dat dit veilig genoeg is. ‘Hoe erg kan dit nou wees. Dit is maar deel van die bank se voorskrifte en beleid. Pietie se besigheid gaan immers baie goed doen. Hy sal elke sent stiptelik ingevolge die bank se voorwaardes terugbetaal. En ek sou hom ‘n hupstoot gegee het om aan die gang te kom. Dit is tog wat ouers doen.”
Dit kan egter skeefloop. Jou handtekening as borg kan jou duur te staan kom. As jy ooreengekom het om jouself as borg te verbind, moet jy weet dat ons reg jou aan jou ooreenkoms gaan hou, met min ruimte vir beweging.
‘n Onlangse saak in die Hoë Hof – Die ma, haar seun en die borgstelling:
- Die ma het haarself as onbeperkte borg en mede-hoofskuldenaar teenoor die bank verbind vir haar seun se bankskuld. Die seun se bankskuld het bestaan uit ‘n huisverband, ‘n oortrokke leningsfasiliteit en kredietkaartskuld. Die totale bedrag ter sake was bykans R4,8 miljoen.
- Die seun se boedel is gesekwestreer en sy bates is verkoop. Na die afhandeling van die sekwestrasie het die bank die ma as borg gedagvaar vir die tekorte op die seun se rekeninge. Dit is wat banke doen en dit is hoe ‘n borgstelling werk.
- Die ma het alles in die stryd gewerp om aanspreeklikheid te ontkom. Sy het allereers die geldigheid van die borgooreenkoms aangeval. Sy het ook bewerings en verduidelikings aangebied, wat soms in geheel in stryd was met mekaar. Die weergawes sluit die volgende in: Die bankamptenaar sou haar mislei het. Sy het gedink sy teken net ‘n vorm om die rekeninge te verander, nie ‘n borgooreenkoms nie. Sy het nie die ooreenkoms gelees nie. Sy het net die opskrifte gelees. Iemand het later die gedeeltes wat oopgelaat was, gaan invul. Die skriftelike borgooreenkoms was in stryd met ‘n mondelinge ooreenkoms. Alhoewel die ooreenkoms baie duidelik bepaal dat dit ‘n onbeperkte borgooreenkoms was, was dit eintlik ‘n beperkte ooreenkoms. Haar handtekening op van die ander dokumente was vervals.
As jy iets onderteken, moet jy seker maak dat jy weet wat in die ooreenkoms staan. Dit help nie om later te sê, ek het ‘n fout gemaak nie.
Die verweer wat sy aangebied het, was een van ‘n misverstand aan die kant van die moeder toe sy die dokument onderteken het. Dit is ‘n verweer wat ons reg slegs sal aanvaar indien jy kan bewys dat jou fout beide wesentlik en redelik was. Jy moet eerstens kan bewys dat jy geen bedoeling gehad om die ooreenkoms te sluit nie. Jy moet verder kan bewys dat die ander party jou met ‘n valse voorstelling mislei het oor die aard van die dokumente en/of die bepalings en voorwaardes daarvan.
Ons reg gaan van die veronderstelling uit dat wanneer jy ‘n dokument onderteken, dan doen jy dit met die bedoeling om gebonde te wees aan die skriftelike ooreenkoms wat daarin vervat is. Laat hy wat onderteken, versigtig wees (“caveat subscriptor”). As jy ‘n skriftelike ooreenkoms onderteken het, is dit baie moeilik om te slaag met ‘n verweer wat sê ek het die ooreenkoms foutiewelik onderteken.
Die hof het al die bewese feite hier oorweeg en verwerp dan die moeder se verskillende weergawes van wat gebeur het as vals. Die hof bevind dat sy presies geweet het wat die borgstelling behels en watter dokumente sy onderteken het. Sy het haar vrywilliglik as borg verbind vir haar seun se finansiële verpligtinge. Die hof bevind dat sy die bank ten volle moet vergoed vir haar seun se finansiële tekorte teenoor die bank, tesame met rente en alle regskostes op die skaal soos tussen prokureur en kliënt.