“Leadership involves finding a parade and getting in front of it” (John Naisbitt, futurist and author of ‘Megatrends’)
‘n Onlangse opname het drie belangrike tendense vir die volgende vyf jaar geïdentifiseer –
- Multinationals word sterker
Indien mens die top 100-ekonomieë in die wêreld sou vat en multinationals (MN’s) daarby insluit, sal 69 van die top 100 multinationals wees. Nie net is hulle sterker as sommige nasies nie, maar besit ook ongekende mag – ‘n goeie voorbeeld hiervan is Facebook. Tans spreek mense hulle bekommernis oor die mag van die staat uit, maar sosiale media kan moontlik in die toekoms ‘n sterker krag wees.
Die lyn tussen werk en persoonlike tyd sal toenemend vervaag, aangesien MN’s meer van hul werknemers se lewens in beslag neem. ‘n Voorbeeld is Google se hoofkantoor – waar slaapplek, restaurante en ontspanningsfasiliteite aan werknemers verskaf word, omdat werknemers die grootste deel van hul dae en nagte by Google spandeer.
- Gespesialiseerde groei bring netwerke nader aan mekaar
Tegnologie het maatskappye in staat gestel om aktiwiteite te desentraliseer in gebiede van spesialisasie – ‘n iPhone word nou in verskillende geografiese plekke geproduseer, afhangend van die kostes of vaardighede. Mededingende kragte sal hierdie netwerke stelselmatig al hoe nader aan mekaar bring.
Die gevolg is dat individue in die toekoms meer sal weet van kollegas wat duisende kilometers ver van hul is, as wat hulle van hul eie bure en plaaslike gemeenskappe weet.
- Sosiale netwerke en die omgewing gaan besigheid beïnvloed
Mense, met soortgelyke idees en beginsels, kan nou onmiddellik met mekaar skakel op sosiale media en kragtige groepe vorm. Hierdie groepe gaan besighede in die toekoms dwing om hul strategieë te hersien.
Die impak van klimaatsverandering gebeur voor ons oë – dit sal druk op beide besighede en individue plaas om belangrike hulpbronne soos water te bewaar, en strategieë aan te neem wat die omgewing sal beskerm. Baie van die kragtigste sosiale media groepe is groepe wat hulself beywer vir die beskerming van die omgewing.
Dit sal lei tot ‘n wesenlike groei in sosiale kapitaal, aangesien besighede verplig is om goedere en dienste te lewer wat die samelewing bevorder.
Die toekoms lyk toenemend interessant!