Dit is tyd om jou COIDA opgawe, oftewel Ongevalle opgawe te voltooi.

Jou Compensation For Occupational Injuries And Diseases Act (COIDA) opgawe van verdienste moet voor 31 Mei ingedien word. Dit is maklik om te registreer (as jy nog nie het nie) per e-pos en om die opgawe aanlyn in te dien. COIDA bydraes is nie te duur nie en hang af van jou industrie.

Waarom registreer en die opgawe indien?

• Dit is nog ‘n versekeringspolis vir jou personeel. As jou werknemer by die werk sterf, beseer word of ‘n werksverwante siekte opdoen, is hy of sy geregtig op vergoeding;
• Jy kan nie ‘n “certificate of good standing” kry as jy nie aan die Wet voldoen nie. Dit beteken dat jy nie oorweeg sal word vir sekere tenders nie en by sekere myne en konstruksiepersele verbied sal word (as dit jou industrie is);
• Laastens is dit nie goed om jouself bloot te stel aan die risiko van boetes nie.

Wat het geword van die afslag?

Vir diegene wat onthou van die gebeure in 2013 toe afslag van tot 10% aangebied is vir tydige indiening en betaling; hierdie afslag word nou verwerk. As dit op jou van toepassing is, sal die Departement van Arbeid die afslag aan jou betaal of dit van jou aanslag aftrek.

Wat as ek nie geregistreer het nie?

Senior amptenare het skynbaar bevestig dat hulle steeds nie rente of boetes hef nie. Jy sal die huidige opgawe, plus dié vir die vorige vier jaar, moet indien.

Die Departement van Arbeid maak dit relatief pynloos om jouself in die COIDA sisteem te kry.