‘n Onlangse Wêreldbank- en Price Waterhouse Coopers-opname, lys maatskappye in 190 lande in terme van die tyd wat nodig is om belastingopgawes voor te berei en in te dien. Die opname toon dat Suid-Afrika bo die gemiddelde presteer in vergelyking met sy wêreldwye eweknieë. Suid Afrika het met een plek verbeter en geskuif van verlede jaar se 47ste plek na nommer 46.
Hierdie opname word sedert 2004 gedoen en een van sy belangrikste bevindinge is die wyse waarop tegnologie die tyd wat maatskappye neem om alle belastingopgawes te voltooi, verbeter. Dit sluit in alle vorme van belasting soos inkomstebelasting, BTW, LBS, ens.
In 2016 het die gemiddelde tyd wat spandeer word met 5 uur verbeter tot 240 uur – Suid-Afrika neem 210 uur. In ‘n ander opname, wat die gemiddelde aantal betalings wat maatskappye maak per jaar meet, is die gemiddelde 24 betalings, terwyl die getal in Suid-Afrika 14 is.
In terme van ander metings, soos die tyd vir ‘n BTW-terugbetaling, presteer ons naby aan die gemiddelde. Plaaslik neem dit 26,5 weke om ‘n BTW-terugbetaling te ontvang, terwyl dit wêreldwyd ongeveer 27.8 weke neem.
‘n Aanbeveling en ‘n waarskuwing
In terme van belasting oudits versuim ons om by te hou met die res van die wêreld. Een aanbeveling van die opname is dat lande die voorbeeld van Mexiko volg, waar data in reële tyd geanaliseer word, wat dit vinniger maak om die ouditproses te voltooi.
Een waarskuwing uit die opname is dat daar tans nuwe belastings wêreldwyd ingestel word om die invorderingsnet te vergroot – dit kan die tyd wat dit neem om belastingopgawes in te dien verhoog. In Suid-Afrika waar koolstof- en suikerbelasting meer kompleksiteit en administrasietyd gaan benodig, hoop mens dat die finale wetgewing soveel as moontlik vereenvoudig sal word.
Ten spyte van die frustrasies wat Suid Afrikaners ervaar, lyk dit tog of Suid-Afrika nie te sleg vaar nie.