Wie ry aan die pen? BTW Bedrog en die vonnis van 25 Jaar

Die meeste hardwerkende en eerlike belastingbetalers moes al met groeiende frustrasie wag voordat SARS selfs die kleinste terugbetaling aan hulle magtig. Daarom sou daar ‘n mate van genoegdoening wees met die nuus dat drie maatskappydirekteure stywe vonnisse opgelê is vir belastingbedrog.

Oor ‘n periode van drie jaar het hulle 198 valse BTW opgawes ingedien. Hulle het op bedrieglike wyse ‘n totale bedrag van R216 miljoen van die staatskas gevorder. ‘n Effektiewe vonnis van 25 jaar gevangenisstraf is aan elkeen van die direkteure opgelê.

 “Soms is die verskil tussen belastingvermyding en belastingontduiking slegs die breedte van ‘n tronkmuur.” (Dis nou volgens Denis Healey soos vertaal.)

Hierdie is ‘n waarskuwing aan enigiemand wat daaraan dink om op bedrieglike wyse belasting te ontduik. Die Hooggeregshof het direkte gevangenisstraf van 25 jaar aan drie maatskappydirekteure opgelê.

Die drie maatskappydirekteure het oor ‘n tydperk van drie jaar 198 bedrieglike BTW opgawes by SARS ingedien. SARS het BTW uitbetalings van R216 miljoen rand gemagtig wat aan die maatskappy uitbetaal is.

Die hof het al drie direkteure aan die aanklagte van bedrog, vervalsing, uitgifte en geldwassery skuldig bevind.

Eerlike en hardwerkende belastingbetalers, veral diegene wat al maande sonder geluk sukkel om regmatige terugbetalings van SARS te probeer terugvorder, sal bly wees hieroor. Hulle sal ook hoop dat ander voornemende belastingontduikers eerder hul belastingsake in orde sal kry en betaal wat aan SARS verskuldig is. Hopelik sal die vooruitsig van ‘n paar dekades agter tralies as gevolg van belastingbedrog en belastingontduiking mense van sulke optrede weerhou.