Dit is ‘n algemene probleem in vandag se tyd. Jy, of dalk iemand wat jy probeer help, wil eiendom aankoop voordat eiendomspryse weer die hoogte inskiet. Julle is gelukkig en vind daardie gepaste “eerste huis” teen die regte prys. Maar jy (of hulle) kan dit eenvoudig nie bekostig nie.
Moenie moed verloor nie, daar is nog hoop. Die regering se FLISP subsidie het ten doel om huiseienaarskap ‘n hupstoot te gee deur te help met bekostigbaarheid. Met die subsidie kan verbandpaaiemente verlaag word om dit meer hanteerbaar te maak, of dit kan die kontantkomponent van die koopprys verhoog. Ons kyk na wie hiervoor kwalifiseer, hoeveel hulle kan kry, en watter tipe eiendom hulle daarmee kan aankoop. |
Let wel: Indien jy meer as R22,000 per maand verdien (die subsidie-drempel), of nie persoonlik in die mark is vir ‘n huis in die “bekostigbare behuising” kategorie nie, kan jy steeds hierdie artikel vir iemand aanstuur wat wel daarby kan baat. Dalk ‘n familielid, vriend, kollega of werknemer. Jy kan hulle dalk net help om daardie belangrike eerste stap na suksesvolle eienaarskap te neem.
Tensy jy reeds jou eie huis besit, is die huidige eiendomsmark dalk die gulde geleentheid om eiendom teen ‘n redelike prys te koop. Bekostigbaarheid is nie meer wat dit was nie, en ‘n mens moet elke geleentheid om hulp tot jou voordeel gebruik.
Dit is waar FLISP, die regering se Finansieringsgekoppelde Individuele Subsidie Program (“Finance Linked Individual Subsidy Program”) in die prentjie kom – indien jy daarvoor kwalifiseer.
Hoe help dit jou?
Die subsidie help jou om jou huisleningspaaiment na ‘n bekostigbare vlak te verminder. Die verbandbedrag word verlaag óf die kontantgedeelte van die koopprys wat jy inbetaal word verhoog. Jy kan nuwe of ouer residensiële eiendom aankoop, of jy kan op ‘n leë erf bou.
Die subsidiebedrag sal afhang van jou inkomste. Die maksimum bedrag is R121,626.
Kwalifiseer jy?
Om te kwalifiseer moet jy aan die volgende vereistes voldoen:
- Jy moet ‘n Suid-Afrikaanse burger met ‘n geldige Identiteitsdokument wees, of ‘n permanente inwonder met ‘n geldige verblyfspermit.
- Jy moet ouer as 18 jaar wees, en getroud/in ‘n saamwoonverhouding wees of as jy enkellopend is moet jy finansiële afhanklikes hê.
- Jy mag nie voorheen enige voordeel ingevolge ‘n Regerings Behuisingsubsidie-skema ontvang het nie.
- Jy moet goedkeuring hê vir ‘n huislening.
- Jy moet tussen R3,501 en R22,000 per maand verdien.