“Never take your eyes off cash flow because it’s the life-blood of business” (Richard Branson)
Die Maatskappywet word ondersteun deur die aanname van likiditeit en solvensie – direkteure en eienaars is verplig om te verseker dat die onderneming al sy korttermynverpligtinge kan nakom.
Die beste manier om dit te bereik is via kontantvloei.
Aangesien kontantvloei fundamenteel is vir enige besigheid, moet dit deur senior bestuur effektief bestuur word.
Die beginpunt
Sit saam met u rekenmeester en werk die maandelikse in- en uitvloei van kontant op u bankstate uit. Plaas dit in ‘n Excel dokument en hersien dit gereeld (verkieslik weekliks) tot die kontantvloei akkuraat begin reflekteer. Die belangrikste deel van hierdie proses is dat u begin om die patrone van u maatskappy se kontantvloei te verstaan.
Die belangrikste aspekte van kontantvloei
- Verkope. Kan ek afslag verminder sonder om verkope te verloor? Is dit moontlik om verskillende produkte aan kliënte te verkoop? Hoe groei ek my kliëntebasis?
Uiteindelik sal geen besigheid floreer sonder groeiende verkope nie. Die sleutel tot verkope is die bestuur van debiteure:
o Hoeveel kontak het u met kliënte? Die stadige betaling van rekeninge kan verminder word deur verhouding met kliënte te bou.
o Hoe vinnig reageer u op kliënte se navrae? Word kredietnotas dadelik uitgereik?
- Voorraad. Het u ‘n goeie vooruitskatting stelsel om die vermindering van voorraadhouding te balanseer met nie verkope te verloor nie? Word stadig bewegende voorraad vinnig geïdentifiseer?
- Krediteure. Optimaliseer u die moontlikhede met krediteure, byvoorbeeld word alle moontlikhede in terme van afslag vir vroeë betaling gebruik?
- BTW. BTW moet ingesluit word in u verkoopsyfers sowel as u aankope, en u BTW-terugbetalings word in u kontantvloei ingereken.
- Bereken u ekstra kontantvloei. Dit is die surplus kontant nadat u verpligtinge nagekom is. Dit is belangrik vir u besigheid, aangesien dit beteken dat u nuwe bates kan finansier of meer dividende kan betaal. Dit gee u meer buigsaamheid en vryheid om die besigheid te bestuur en te laat groei.
Wanneer u die besigheid na elke maand einde hersien – bou kontantvloei in die oorsig in. Baie besighede gebruik nou ekstra kontantvloei as ‘n aanwyser van die besigheid se sukses.
Kontantvloei is van kardinale belang vir enige besigheid – gee dit dus die aandag wat dit verdien. Dit dien ook as ‘n goeie aanduiding van hoe die besigheid presteer.