“XBRL” klink dalk soos ‘n nuwe Star Wars robot, maar dit is eintlik ‘n globale standaard vir die uitruil en rapportering van besigheidsinligting. Ons CIPC (Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom) vereis dat u dit vanaf 1 Julie vir alle jaarlikse finansiële state moet gebruik.
Kom ons kyk hoe XBRL werk, wat die voordele daarvan is en vir wie, en of hierdie nuwe CIPC-vereiste van toepassing is op u besigheid.
Die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) sal vanaf 1 Julie 2018 vereis dat alle jaarlikse finansiële state (AFS) wat aan CIPC voorgelê word, in die eXtensible Business Reporting Language (XBRL) formaat moet wees.
Wat is XBRL en wat is die voordele daarvan?
Dit is ‘n globale standaard vir digitale verslagdoening. Dit maak gebruik van ‘n etikettering sagteware stelsel waardeur data oor verskeie platforms gebruik kan word sonder om dit te herhaal.
Dit beteken dat dit tyd spaar, meer akkuraat is en as ‘n analitiese instrument gebruik kan word. Byvoorbeeld, CIPC sal die AFS van verskillende organisasies kan vergelyk, wat waardevol sal wees vir gebruikers soos beleggers.
XBRL identifiseer ook vinnig probleme met indiening (maak dit maklik om te korrigeer) en is uiters koste-effektief.
Dit word wyd in die buiteland gebruik – mense in die Verenigde Koninkryk dien byvoorbeeld hul inkomstebelastingopgawes in deur XBRL.
Wie moet jaarlikse finansiële state by CIPC indien?
Basies, enige entiteit wat deur die Maatskappywet vereis word om hul AFS te laat oudit. Dit sluit in:
- Openbare maatskappye en ondernemings in staatsbesit soos Eskom,
- Maatskappye met fidusiêre bates van R5 miljoen of meer (byvoorbeeld eiendomsagente se trustrekeninge),
- Nie-winsgewende maatskappye wat aktiwiteite uitvoer wat in die openbare belang is, soos ‘n vleilandreservaat,
- Nie-winsgewende maatskappye wat deur die Staat geskep is,
- Maatskappye wie se openbare belang telling 350 of meer is,
- Enige maatskappy wie se openbare belang teling minstens 100 is en sy AFS in-huis opstel.
Indien u in een van hierdie kategorieë val, praat met u rekenmeester wat u sal lei deur die proses om u AFS in XBRL te skep. Onthou die implementeringsdatum is 1 Julie 2018.