Donald Trump gaan binnekort die 45ste President van die VSA word. Tot nou toe dreig hy steeds om sy populistiese veldtog beloftes (bv. gedeeltelike herroeping van Obamacare, die opskeur van handelsooreenkomste en die deportering van 11 miljoen onwettige immigrante) uit te voer en het hy ‘n ultra-Konserwatiewe persoon in ‘n senior posisie in die Withuis aangestel.
Die Amerikaanse ekonomie en hoe dit Suid-Afrika raak
Die mees kritieke kwessie vir ons is die ekonomie. Tot nou toe lyk dit nie goed nie. Trump het aan die VSA maatskappy belasting vermindering en ‘n enorme infrastruktuur program beloof. Wêreldmarkte is bekommerd hieroor, veral ontluikende markte soos Suid-Afrika. Hierdie programme gaan die VSA se tekort op die BBP verhoog van die huidige 80% tot ver bo 100%.
Die VSA se langtermyn rentekoerse het skerp gestyg sedert Trump se oorwinning. Die bekende ekonoom Henry Kaufman het voorspel dat die vyf en dertig jaar oue bulmark vir lae langtermyn rentekoerse verby is. Dit is omdat Trump se beleide dreig om inflasie in die VSA te laat herleef, wat rentekoerse gaan opdruk om inflasie in toom te hou. Op sy beurt, gaan dit beleggers aanmoedig om hulle blootstelling aan hoër risiko effekte te verlaag, wat sal lei tot die verkoop van ontluikende mark valuta – tot datum het die Rand meer as 8% teenoor die VSA$ verloor.
Om hulle geldeenhede te beskerm, sal ontluikende markte rentekoerse verhoog, wat die potensiaal vir ekonomiese groei gaan verminder. Dit is nie goeie nuus vir Suid-Afrika nie. Ons ekonomie het hierdie jaar net 0.5% gegroei en as dit in die toekoms nog afneem, is belastingverhogings, laer indiensneming en maatskaplike onrus ons voorland.
Wat van hulpbronne?
Die aansporingspakket gaan aanvanklik net hulpbronne soos ystererts en koper bevoordeel. As die pakket ekonomiese groei tot gevolg het, sal dit Suid-Afrika se groter hulpbronne, soos platinum, help. Tot nou toe het platinumpryse sedert Trump se verkiesing geval, wat aandui dat die VSA se ekonomiese groei nie deur die aansporingspakket aangehelp is nie. Die uitvoer van goud, ons ander groot hulpbron, het ook geval omdat stygende rentekoerse die vraag onderdruk.
Proteksionisme
Trump het ook belowe om vryhandelsooreenkomste te herroep, wat ‘n terugkeer na die ekonomiese nasionalisme van die 1930’s inlui. Ons ekonomie is oop en het voordeel getrek uit die laer tariewe, terwyl groeiende proteksionisme die vooruitsigte van ekonomiese groei gaan verminder.
Wat daarvan? En sal dit regtig gebeur?
Moeilike tye sedert die wêreldwye finansiële krisis van 2008/9 het die post Tweede Wêreldoorlog ekonomiese samewerking, wat voorspoed na die wêreld gebring het, benadeel. Die probleem met stygende proteksionisme is dat dit nie ekonomiese voorspoed bring nie, maar die potensiaal vir populisme, ‘n reeds toenemende wêreldneiging, verhoog.
Ten spyte hiervan, was daar soortgelyke somber voorspellings toe George Bush in 2000 verkies is. Bush se verkiesing was positief vir die Afrika kontinent, omdat hy ‘n suksesvolle veldtog in die stryd teen VIGS gelei het en oper handel met die VSA aangemoedig het.
Onthou ook dat mag in die VSA geïnstitusionaliseerd is en dat Trump as President moontlik verhoed kan word om baie van sy voorgestelde omstrede inisiatiewe in te stel.