Rommelstatus II – Om dit te voorkom, vereis meer as goeie staatshuishoudkunde

Sedert “Nenegate”, was die land daarop ingestel om die verlaging tot rommelstatus deur graderingsagentskappe te vermy. Drie agentskappe beheer 95% van die mark; met Moody’s is ons twee kerwe bo rommel, maar met Fitch en met Standard and Poor’s is Suid-Afrika net een kerf bo rommelstatus.

Om na rommel afgradeer te word, sal leenkoste opdruk (skuldfinansiering is die vinnigste groeiende uitgawe in ons nasionale begroting) en nog ‘n verswakking van die wisselkoers tot gevolg hê. Dit is omdat die meeste buitelandse instellings nie toegelaat word om staatseffekte te koop of te hou van ‘n land met rommelstatus nie. So, as ons na rommelstatus afgradeer word, sal buitelandse instellings van ons lenings ontslae raak, wat ‘n aansienlike verswakking van die wisselkoers tot gevolg sal hê. Om addisionele fondse te leen, sal ons hoër rentekoerse moet betaal om beleggers te lok.

Hoe vermy ons afgradering na rommelstatus?

Dit word algemeen aanvaar dat beheer van ons begrotingstekort en ‘n terugkeer na ekonomiese groei die dinge is waarvoor graderingsagentskappe soek. Daarby het Moody’s nog ‘n faktor gevoeg tot wat hulle beskou as belangrik, naamlik die gesondheid van die land se instellings.

Dit is nie net die logiese instellings soos Eskom, die Tesourie en die Reserwebank nie; graderingsagentskappe stel ook belang in die Openbare Beskermer en die Grondwetlike Hof. Hulle beskou die gladde funksionering van hierdie instellings as ‘n onmisbare grondslag van langtermyn ekonomiese welvaart.

Net so belangrik is die pogings van Minister Gordhan om doeltreffende samewerking tussen die staat en sakesektor te skep om gradering tot rommelstatus te voorkom. Instellings soos die Openbare Beskermer verseker dat die demokrasie gesond bly. Hulle hou korrupsie dop (of verseker ten minste dat dit oopgevlek en reggestel word) en beskerm basiese regte (soos eiendomsregte). Die mislukking van hierdie instellings het ‘n sterk verband met ekonomiese resessies en ander erger toestande. Zimbabwe is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

Bepaling van die risiko

So wanneer jy wil ontleed of ons op pad is na rommelstatus, oorweeg meer as die ekonomiese vooruitsig – kyk of die Openbare Beskermer se aanbevelings gevolg word, die wette van die land toegepas word en of die staat en sakesektor doeltreffend saamwerk