Wanvoorstelling Op CV’s Word Erger!

“CV bedrog” is ‘n toenemende probleem wat alle werkgewers teen moet waak wanneer nuwe aanstellings gemaak word.

Voorkoming is natuurlik baie beter as genesing, waaksaamheid tydens die werwingsproses is dus baie belangrik. Met ons land se arbeidswetgewing wat so kompleks en vol slaggate is, kan dit ‘n groot uitdaging wees om later van ‘n werknemer ontslae te raak wat oneerlik was op hulle CV.

Ons deel ‘n paar gedagtes oor hoe om ‘n deeglike prentjie van ‘n aansoeker te skep, en hoe om oneerlikheid in sy of haar CV op te spoor.

Werkgewers vind dat kandidaat-werknemers al hoe meer oneerlik is oor aspekte van hul loopbaan om hul aansoek meer aanloklik te laat lyk en verleenthede word ook geheel en al uitgelaat.

Dit word al hoe moeiliker om ‘n deeglike prentjie van ‘n aansoeker te kry as gevolg van toenemende beperkings wat op persoonlike inligting geplaas word. Dit is geneig om werkgewers senuweeagtig te maak om inligting oor hul vorige werknemers te deel, en meer en meer werkgewers gee nou eerder geen inligting uit nie.

‘n Fout tydens die werwingsproses kan baie skadelik wees, aangesien die proses tydrowend is en dit personeel se moraal nadelig beïnvloed, wat uiteindelik kan lei tot finansiële skade vir die werkgewer se besigheid.

Dit is ‘n saak van vertroue

Die verhouding tussen werknemer en werkgewer is gebaseer op vertroue. Misbruik van hierdie vertroue deur ‘n CV te vervals, breek hierdie verhouding af as die werkgewer begin twyfel oor wat die werknemer doen en dit lei gewoonlik tot dissiplinêre verhore en dikwels beëindiging van diens. Die werkgewer moet dan weer die hele werwingsproses van voor af begin.

Die Arbeidshof het bevind dat die vervalsing van ‘n CV ‘n ernstige oortreding is wat afdanking regverdig, en dat dit nie nodig is om te bewys dat die wanvoorstelling tot ‘n aanstelling gelei het nie.

Alhoewel dit bemoedigend is, word baie gevalle in praktyk deur die werkgewer verloor as gevolg van ‘n fout in prosedure.

Hoe om valshede in ‘n CV op te spoor

Soos hierbo genoem, word dit al hoe moeiliker om ‘n akkurate prentjie van ‘n voornemende werknemer te skep. Oorweeg om in-huis te adverteer en rolspelers in die industrie te nader vir beskikbare kandidate met betroubare verwysings. Dikwels lei hierdie benadering tot ‘n situasie waar die werkgewer “iemand wat iemand ken” vind, en van daar af kan ‘n meer akkurate prentjie van die kandidaat se verlede saamgestel word.

Wanneer ‘n werknemer ‘n ernstige oortreding soos hierdie begaan moet daar ernstig oorweeg word om deur die volle dissiplinêre proses te gaan en die betrokke persoon verantwoordelik te hou vir hulle oortreding. Wees dan ook eerlik met ‘n ander werkgewer oor waarom die betrokke werknemer u diens verlaat het of afgedank is. Op hierdie manier sal dit ten minste ander werkgewers die duur lesse van verkeerde aanstellings spaar, en kan dit moontlik eendag regdeur die sektor versprei en weer eendag tot u besigheid se voordeel wees.